Indo-Europese tale

Indo-Europese tale
Geografiese
verspreiding:
wêreldwyd
Genetiese
klassifikasie
:
Indo-Europees
 Indo-Europese tale
Onderafdelings:
Anatolies

oranje: lande met 'n meerderheid sprekers van IE tale. geel: lande waar 'n IE taal amptelike status geniet

Indo-Europese tale
Indo-Europese tale
Albanees | Anatolies
Armeens | Balties | Kelties
Germaans | Grieks | Indo-Irannees
Italies | Slawies | Togaars
Proto-Indo-Europees
Taal | Vereniging | Geloof
Kurgan | Yamna | BMAC | Ariaans
Indo-Europese studies

Die Indo-Europese tale sluit sowat 443 (SIL skatting) tale en dialekte wat deur omtrent drie miljard mense gepraat word en die meeste groot taalfamilies van Europa en westelike Asië in die superfamilie in. Eietydse tale in die superfamilie sluit Bengaals, Engels, Duits, Frans, Hindi, Persies, Portugees, Russies, en Spaans (elk met meer as 100 miljoen eerstetaal sprekers) en Afrikaans en Nederlands in, sowel as dooie tale soos Latyn en kunsmatige tale soos Esperanto. Interessant genoeg is 'n paar Europese tale soos Fins, Hongaars en Baskies nie deel van die superfamilie nie. Dieselfde geld vir die meeste suider-Indiese tale, wat van Drawidiese oorsprong is (soos Telugu, Tamil, Kannada en Malayalam). Dié taalfamilie is so genoem omdat dit vanaf Indië tot oor die hele Europa streek.

Geskiedenis

Sien ook: Proto-Indo-Europees, Diachroniese taalkunde, Glottochronologie.

Stamboom van Indo-Europese tale
Laat Proto-Indo-Europese taal in die Kurgan raamwerk
Middel-3de millennium v.C. verspreiding
Huidige verspreiding van die Indo-Europese taalfamilie in Eurasië
██ Grieks ██ Romaans ██ Indo-Irannees ██ Kelties ██ Germaans ██ Armeens ██ Balties ██ Slawies ██ Albanees ██ Nie-Indo-Europese tale
Middel-2de millennium v.C. verspreiding
Verspreiding in ongeveer 500 v.C.
Na-Romeinse Ryk en Trek tydperk verspreiding

Die moontlikheid van 'n gemene oorsprong vir die uiteenlopende tale is vir die eerste keer voorgestel deur die Nederlander Marcus Zuerius van Boxhorn. Hy was 'n 17de-eeuse taalkundige met 'n groot kennis van Latyn. Hy het tewens Russies, Persies en Turks bestudeer. Hy het geweet van Xenofon se reise na Indië, waardeur hy ooreenkomste met Sanskrit kom opmerk het. Dit het daartoe gelei dat hy gelykenisse tussen verskillende Indo-Europese tale ontdek het, waarby hy die bestaan van 'n primitiewe gemeenskaplike taal – wat hy toe 'Skities' noem – veronderstel het. Hy het by hierdie hipotese Nederlands, Grieks, Latyn, Persies en Duits ingesluit, waarna hy later ook die Slawiese, Keltiese en die Baltiese tale ingesluit het. 'n Semitiese taal soos Hebreeus het hy daarvan uitgesluit.

Die bekendste en later ontdekker is egter die agttiende-eeuse Engelsman Sir William Jones wat ooreenkomste in van die vier oudste tale wat toe bekend was opgemerk het naamlik, Latyn, Grieks, Sanskrit, en Persies. Stelselmatige vergelyking van dié en ouer tale onderneem deur Franz Bopp, het die teorie ondersteun. In die 19de eeu het vakkundiges die groep "Indo-Germaans" of soms "Aries" genoem. Toe dit egter later duidelik word dat daar 'n verband is tussen meeste van Europa se tale, is die naam uitgebrei na Indo-Europees. 'n Voorbeeld hiervan is die sterk ooreenkomste wat ontdek is tussen Sanskrit en ouer gesproke dialekte van Litaus en Lets.

Die gemeenskaplike voorouerlike (heropgeboude) taal word Proto-Indo-Europees (PIE) genoem. Daar is 'n meningsverskil wat betref die oorspronklike geografiese ligging (die sogenaamde Urheimat of oorspronklike tuisland), waar die taal sy oorsprong vind. Daar is vandag twee hoofkandidate: 1. die steppe noordelik van die Swartsee en die Kaspiese Gebied (sien Kurgan en 2. Anatolië (sien Colin Renfrew). Voorstanders van die Kurgan-hipotese neig om die datum vir die proto-taal op [c.] 4000 v.C. te skat, terwyl die voorstaaders van die Anatoliese oorsprong gewoonlik 'n datum van enkele millennia vroeër voorstel. (sien Indo-Hittiet).

Subgroepe

Die verskeie subgroepe van die Indo-Europese familie sluit in (in historiese volgorde wat betref die oudste opgespoorde teks):

  • Anatoliese tale — vroegste bevestigde tak, van die 18de eeu v.C.; uitgestorwe, mees noemenswaardig was die taal van die Hittiete.
  • Indo-Irannese tale, wat van die gemene voorouertaal, Proto-Indo-Irannees afstam
  • Grieks — gefragmenteerde gegewens in Micene vanaf die 14de eeu v.C.; Homeros dateer uit die 8ste eeu v.C.. Sien Geskiedenis van die Griekse taal.
  • Italiese tale — insluitend Latyn en sy afstammelinge, die Romaanse tale, waarvan dokumentasie uit die 1ste millennium v.C. bestaan.
  • Keltiese taleGalliese inskripsies dateer uit so vroeg as die 6de eeu v.C.; Oudierse tekste uit die 6de eeu n.C.. Die Italiese en Keltiese takke is vroeër as groepeerbaar binne 'n sogenaamde "Italo-keltiese" tak gepostuleer, 'n gedagte wat nie meer deur meeste vakkundiges ondersteun word nie.
  • Germaanse tale (insluitend Engels) — vroegste bewyse in runeskrif inskripsies van omtrent die 2de eeu, vroegste koherente tekste in Goties, 4de eeu.
  • Armeens — dokumente uit 5de eeu.
  • Tochaarse tale — uitgestorwe tale van die Tochare, wat in twee dialekte voorgekom het vanaf ongeveer die 6de eeu.
  • Balto-Slawiese tale, deur baie vakkundiges beskou as afgelei van 'n gemeenskaplike proto-taal later as Proto-Indo-Europees, terwyl ander skepties is oor die moontlikheid en van mening is dat Balties en Slawies glad nie meer verwant is as enige ander twee takke van Indo-Europees nie. Leksikografiese ooreenkomste is egter geweldig groot.
    • Slawiese tale — dokumente uit die 9de eeu, vroegste tekste in Ou Kerkslawies.
    • Baltiese tale — dokumente uit die 14de eeu, en vir tale wat eers so laat geattesteer is, behou hulle ongewoon baie argaïese eienskappe wat aan Proto-Indo-Europees toegeskryf word. Dié argaïese eienskappe kan veral in die agtervoegsels van die selfstandige naamwoorde en dié naamwoorde se nominatiefagtervoegsels gevind word.
  • Albanees — geattesteer van die 16de eeu; verwantskappe met Illiries, Dacies, of Thracies voorgestel.

Bo en behalwe die klassieke tien takke hierbo gelys, is daar verskeie uitgestorwe tale waaroor daar baie min bekend is:

  • Illiries tale — waarskynlik verwant aan Messapies; vewantskappe met Albanees soms voorgestel.
  • Venetiese taal — na aan Italies.
  • Messapies— taal nie ontsyfer nie.
  • Frigiese taal — taal van antieke Frigië.
  • Paioniese taal;
  • Thraciese taal
  • Daciese taal — moontlik verwant aan Albanees.
  • Antieke Macedoniese taal — waarskynlik verwant aan Grieks, ander stel 'n verhouding met Illiries, Thracies or Frigies voor.

Daar is sonder twyfel ander Indo-Europese tale wat verwdwyn het sonder om enige spore oor te laat.

Satem- en Kentum-tale

Stamboom met ontstaanstye op grond van glottochronologiese ondersoek

Die Indo-Europese subtakke word baiemaal geklassifiseer as 'n Satem- of 'n Kentumgroep, onderskeidelik vernoem na die woord vir 100: centum in Latyn (oorspronklik as 'kentum' uitgespreek) en satəm in Avesties. Dit is gebaseer op die maniere waarop die drie oorspronklike velêre beginklinkers in onderskeie taalgroepe hanteer word. Satem-tale het die onderskeid tussen die labiovelêre en suiwer velêre klanke verloor, en terselfdertyd het die palatale-velêre klanke assibilasie (d.i. 'n ontwikkeling na 'n s-klank) ondergaan. Die Kentumtale het, aan die ander kant, die onderskeid tussen die palatale velêre en suiwer velêre klanke verloor. Oor die algemeen is die "oostelike" tale Satemtale (Indo-Irannees, Balto-Slawies), en die "westelike" tale Kentum-tale (Germaans, Italies, Kelties). Die Satem-Kentum isoglos loop reg tussen die (andersins na verwante) Griekse (Kentum) en Armeense (Satem) tale, met Grieks wat geringe Satem-eienskappe vertoon. Daar kan moontlik ander tale wees wat nie as Satem nog as Kentum geklassifisseer kan word nie (Anatolies, Tochaars, en moontlik Albanees). In elk geval word die Kentum-Satem tweedeling as parafileties beskou, i.e. daar was nooit 'n "proto-Kentum" of 'n "proto-Satem" nie, maar die klankverandering het deur gebiedskontak tussen die reeds onderskeibare post-PIE tale versprei (sê maar, gedurende die 3de millennium v.C.).

Satem-tale:

Kentum-tale:

'n Glottochronologiese ondersoek van 2003 van Russel D. Gray en Quentin D. Atkinson het 'n stamboom van die taalfamilie gegee met skattings vir die aftakkingstye van die groepe. Die glottochronologiese metode het in die jare 1970 in diskrediet gekom, maar is rond 2000 baie verbeter deur verbeterings in die statistiek wat veral in die DNA-ondersoek toegepas is. Die tye (in jare voor nu: sien afbeelding) wat gevind is vir de oudste aftakkings -na die Anatoliese groep-, ondersteun die sgn. Anatoliese hipotese en nie die Kurgan teorie nie. Die aanhangers van die Kurgan teorie veg dit aan deur te wys op die metodiek wat afhang van watter woorde jy kies om in die analise mee te neem.

In die Anatoliese teorie word aangeneem dat die familie eers in Anatolië ontstaan is maar dat 'n groep díe gebied later verlaat het en verantwoordelik was gewees voor 'n latere Kurgan-ekspansie.

Nie-Indo-Europese tale van Europa

Die meeste gesproke Europese tale behoort tot die Indo-Europese superfamilie. Daar is egter taalfamilies in Europa wat nie daaraan behoort nie. Die Oeraalse taalfamilie, wat Hongaars, Estnies, Fins, heelwat tale in Noord-Wes Siberië en die tale van die Sami (populêr 'Lappe' genoem), insluit is 'n voorbeeld. Die Kaukasiese tale is nog 'n voorbeeld. Die Baskiese taal is ongewoon in die sin dat dit oënskynlik nie aan enige bekende lewendige taal verwant is nie. Taalkundiges vermoed dat Baskies die enigste taal is wat die Indo-Europese invalle oorlewe het. Die Etruskiese taal was ook 'n geïsoleerde, nie-Indo-Europese taal wat op die Italiaanse skiereiland gepraat is maar nou uitgestorwe is. Die Leidse taalkundige Robert Beekes het bevind dat Etruskies se oorsprong in Klein-Asië lê.

Maltees en Turks is twee voorbeelde van tale wat in Europa gepraat word wat beslis nie-Europese oorspronge het. Turks is 'n Turkse taal en Maltees is grootliks van Arabies afgelei.

Superfamilie

Sommige taalkundiges stel voor dat die Indo-Europese tale deel is van 'n hipotetiese Nostratiese taal superfamilie, en poog om verwantskkappe tussen Indo-Europees en ander taalfamilies soos byvoorbeeld die Kaukasiese tale, Altaïese tale, Oeraalse tale, Drawidiese tale en Afro-Asiatiese tale. Die teorie is omstrede, net soos die soortgelyke Eurasiatiese teorie van Joseph Greenberg. Ooreenkomste tussen, byvoorbeeld, Indo-Europese en Oeral-Altaïese tale berus meestal op wedersydse ontlenings vanweë die lang periode van gemeenskaplike grondgebiede in westelike Asië ten tyde van die ontstaan van Indo-Europees.

Sien ook

Verwysings

  • Beekes, R.S.P. Comparative Indo-European Linguistics: an Introduction, John Benjamins Publishing, 1995.
  • Mallory, J.P. In Search of the Indo-Europeans
  • Meier-Brügger, Michael Indo-European Linguistics. With contributions by Matthias Fritz and Manfred Mayrhofer. Berlin/New York: de Gruyter, 2003. 386 pages. ISBN 3-11-017433-2.
  • Language-tree divergence times support the Anatolian theory of Indo-European origin, Russel D. Gray & Quesntin D. Atkinson, Nature 426, 435-439
  • Stevenson, V., Atlas van de Europese talen, Het Spectrum 1989.
  • Watkins, Calvert (2000). The American Heritage Dictionary of Indo-European Roots. Houghton Mifflin. ISBN 0-618-08250-6. 

Eksterne skakels

Taalfamilies
 Afro-Asiatiese tale Austronesiese tale Kartweliese tale Niger-Kongo-tale Sino-Tibettaanse tale
 Altaïese tale Drawidiese tale Khoisan-tale Nilo-Sahariese tale Tai-Kadai-tale
 Amerindiese tale Eskimo-Aleoetiese tale Mayaanse tale Oeraalse tale Turkse tale
 Austro-Asiatiese tale Indo-Europese tale Na-Dené-tale Papoea-tale Uto-Asteekse tale
 Gebaretale Isolate Kreools Kunsmatige tale Pidgin
This article is issued from Wikipedia. The text is licensed under Creative Commons - Attribution - Sharealike. Additional terms may apply for the media files.