Duits

Hierdie artikel handel oor die taal. Vir die etniese groep, sien Duitsers.
Duits
Deutsch
Gepraat in:  Duitsland
 Oostenryk
 Liechtenstein
 Luxemburg
 Switserland
 Denemarke
 Frankryk (Elsas, Moselle)
 België
 Nederland
 Spanje
 Pole
 Italië (Suid-Tirool)
 Roemenië (Transsilvanië)
 Hongarye
 Ysland[1]
 Rusland (Kaliningrad-oblast, Orenburg-oblast)
 Kasakstan[1]
 Tsjeggië
 Slowakye[1]
 Namibië
 Suid-Afrika
 Slowenië[1]
 Kroasië[1]
 Estland
 Letland
 Litaue
 Argentinië[1]
 Brasilië[1]
 Kanada
 Verenigde State 
Gebied: Europa, Asië, Noord-Amerika, Suid-Amerika, Suider-Afrika
Totale sprekers: 95 tot 118 miljoen (moedertaal)[1][2][3]
80 miljoen (tweede taal)[1] 
Rang: 11
Taalfamilie: Indo-Europees
 Germaans
  Wes-Germaans
   Hoog-Duits
    Duits 
Skrifstelsel: Latynse alfabet 
Amptelike status
Amptelike taal in:  Europese Unie
 Duitsland
 Oostenryk
 Switserland
 Liechtenstein
 Luxemburg
 België
Trentino-Suid-Tirool
 Vatikaanstad deur die Switserse wagte, mede-amptelike taal van  Namibië tot 1990.
Gereguleer deur: geen
Taalkodes
ISO 639-1: de
ISO 639-2: deu
ISO 639-3: deu 

Die Duitse taal (Deutsch [ˈdɔʏtʃ] of Deutsche Sprache) is deel van die Germaanse taalfamilie en, met meer as 100 miljoen sprekers, die elfde grootste taal wêreldwyd. Dit word onder andere gepraat in Duitsland, Oostenryk, Switserland, Luxemburg, Suid-Tirool (Italië), Eupen-Malmédy (België), Liechtenstein, Noord-Sleeswyk (Denemarke) en Namibië, en is nog steeds 'n belangrike vreemde taal in Oos-Europese lande.

Dit is ook die tweede belangrikste taal op die internet en derde grootste taal waarin boeke verskyn. Die feit dat Duitsland se moderne universiteite tot onlangs geen studiegelde gevra het nie, het die taal aantreklik gemaak vir die 258 513 (2007) buitelandse studente wat hul opleiding daar ontvang.[4]

Duitssprekendes aan die Kaap die Goeie Hoop, wat Nederlands slegs as 'n aangeleerde taal gepraat het, het 'n groot invloed op die ontwikkeling van Afrikaans uitgeoefen, veral op die gebied van die grammatika. Die invloed op die Afrikaanse woordeskat het egter beperk gebly tot enkele woorde, soos "werskaf" (van Duits wirtschaften).

Etimologie

Die Latynse naam is lingua theodisca, terwyl die Oudhoogduitse en Middelhoogduitse terme respektiewelik diutisk en tiutsch is. Die woord Duits is afgelei van theoda, wat oorspronklik na die Germaanse taal van die volk verwys, in teenstelling met die Latynse kerktaal en walhisk, die tale van die Romaanse volke.

Eers vanaf die 9de eeu word na die mense, wat die Duitse taal praat, ook as theodisci verwys, terwyl vroeë bronne eerder na die verskillende stamme, soos byvoorbeeld die Franke, verwys. Vanaf die 10de eeu word met die term veral die stamme van die Oosfrankiese Ryk bedoel (Franke, Saksers, Beiers, Friese, Alemanne, Thuringers en ander).

Tot by die 19de eeu is die skryfwyse "teutsch" gebruik, 'n foutiewe afleiding van die Latynse teutonicus, wat deur die Romeinse skrywer Livius gebruik word.

Taalgeskiedenis

Oudhoogduits

Die historiese Duitse taalgebied voor die Eerste Wêreldoorlog
Die historiese Duitse taalgebied in 1929
Die historiese Duitse taalgebied ná die Tweede Wêreldoorlog
Die Duitse taalgebied met dialekte

Oudhoogduits is die vroegste, Opper-Duitse vorm van die Duitse taal, wat tussen die 8ste en laat 11de eeu gepraat word. Die term verwys eerder na 'n aantal dialekte, wat deur die tweede (Oudhoogduitse) klankverskuiwing beïnvloed is, soos byvoorbeeld Alemannies, Beiers, Middelfrankies, Oosfrankies en Rynfrankies. Weens die gebrek aan 'n standaardtaal word hierdie dialekte naas mekaar gepraat en geskryf. Die skryf- en kopieerwerk bly 'n domein van die kerk, en tot by die 8ste eeu is dokumente byna uitsluitend in Latyn geskryf.

Karel die Grote bevorder omtrent 800 die onderwys en wetenskappe; belangrike godsdienstige tekste word dikwels in die volkstaal vertaal. Slegs 'n relatief klein aantal tekste uit die Oudhoogduitse tydperk is bewaar, en dit is veral dokumente wat in belangrike kloosters gekopieer is. Dikwels word tekste vanuit een dialek na 'n ander vertaal, wat in die praktyk 'n vermenging van dialekkenmerke beteken. Die monnike, wat in 'n bepaalde dialekgebied skryf, is dikwels die plaaslike dialek nie magtig nie, en hulle kopieerwerk bevat hiperkorrekte vorme. Ook die gebruik van die Latynse alfabet skep 'n probleem; weens die fonetiese verskille tussen die klassieke Romeinse taal en die Oudhoogduitse dialekte is die ortografiese weergawe van klanke in die meeste gevalle twyfelagtig.

Middelhoogduits

Die tydperk van die Middelhoogduitse taal begin omtrent 1100 in die tyd van die kruistogte en eindig met die reformasie omtrent 1500. Dit is 'n aantal dialekte, wat uit die Oudhoogduits ontwikkel, ofskoon daar nog nie sprake van 'n algemene standaardtaal kan wees nie. Net soos in die Oudhoogduitse periode bestaan 'n aantal skryfdialekte naas mekaar. Die skrywers van die tyd probeer egter die opvallendste dialekkenmerke vermy, veral in die liriek.

Vanaf die 12de eeu word die Middelfrankiese literêre taal die oorheersende dialek, terwyl in die 13de eeu die taal van die hoofse digters as belangrikste norm erken word. Praag en die Oosmiddelduitse gebiede skep in die 14de eeu die sogenaamde stadhuistaal, wat deur Martin Luther as die grondslag van sy Duitse Bybelvertaling gebruik word.

Nieuhoogduits

Die moderne Nieuhoogduitse periode begin met die Bybelvertaling van Luther in 1525. Volgens die hoofsaaklike kenmerke word die periode onderverdeel in die tyd van die volkstaalinvloed (1500-1648); die tyd van die Franse invloed (1648-1748); die tyd van die klaarheid (onder meer deur die skrywer Gotthold Ephraim Lessing (1729-1789) oorheers), die tyd van die gevoelens in die letterkunde (Sturm und Drang), die tyd van die verdieping (Friedrich Gottlieb Klopstock, 1724-1803), die tyd van die rede (Johann Gottfried Herder, 1744-1803) en voltooiing tydens die klassieke en romantieke periode (Johann Wolfgang von Goethe).

Die Nieuhoogduitse spelling is tydens die 19de eeu, veral met die publikasie van Konrad Duden se Orthographisches Wörterbuch der deutschen Sprache (1880) gestandaardiseer. Hierdie woordeboek vorm sedert die spellinghervorming van die jaar 1901 die grondslag van die amptelike spelling. Die laaste spellinghervorming is in 1996 deurgevoer.

Die ingrypendste veranderings tydens die 20ste eeu is die ondergang van die Duitse taalgebiede en dialekte in Oos-Europa en die toenemende invloed van die media en die Engelse taal op die taalgebruik. Die taal van die media- en reklamebedryf skep selfs nuwe woorde (neologismes) uit oorspronklik Engelse woordelemente soos handy (selfoon) en dressman ('n manlike fotomodel), wat in Engels nie gebruiklik is nie.

Sien ook

Verwysings

  1. 1 2 3 4 5 6 7 8 9 National Geographic 2006 ondersoek
  2. (en) "Ethnologue: Languages of the World, Seventeenth edition, German". Ethnologue. Besoek op 14 Februarie 2016.
  3. SIL Ethnologue (2006). 95 miljoen Standaard-Duits sprekers; 114 miljoen insluitend Middel- en Hoë-Duits dialekte; 118 miljoen insluitende Nedersaksies en Jiddisj.
  4. Deutscher Akademischer Austauschdienst (DAAD)

Eksterne skakels

Indo-Europese tale: Kentum-tale: Germaanse tale
Noord-Germaanse tale:
Deens | Faroëes | Noors (Bokmål, Nynorsk) | Sweeds | Yslands
Wes-Germaanse tale:
Afrikaans | Duits | Engels | Fries (Noord-Fries, Oos-Fries/Saterfries, Wes-Fries) | Jiddisj | Limburgs | Luxemburgs | Nederduits | Nederlands (Oos-Vlaams, Wes-Vlaams) | Nedersaksies (Wes-Veluws) | Skots
Oos-Germaanse tale:
Boergondies (†) | Goties (†) | Vandaals (†)
This article is issued from Wikipedia. The text is licensed under Creative Commons - Attribution - Sharealike. Additional terms may apply for the media files.