Afrika

Afrika

Oppervlakte 30 221 532 km² (2de)
Bevolking 1,1 miljard[1] (2013, 2de)
Bevolkingsdigtheid 36,4/km²
Lande 54 (en 2 omstrede)
Afhanklike gebiede 7
Taalfamilies Afro-Asiaties
Niger-Kongo
Khoisan
Nilo-Saharies
Austronesies
Indo-Europees
Tydsones UTC-1 (Kaap Verde) tot UTC+4 (Mauritius en Seychelle)
Grootste stede Lagos
Kaïro
Kinshasa-Brazzaville
Johannesburg
Nairobi
Mogadisjoe
Khartoem-Omdoerman
Dar-es-Salaam
Alexandrië
Abidjan
Casablanca

Afrika is die wêreld se tweede grootste kontinent (na Asië) in sowel oppervlakte as bevolking. Saam met die eilande beslaan dit ongeveer 30 221 532 km² wat 20,3% van die totale landoppervlakte van die aarde is en dit word bewoon deur meer as 1 miljard mense – ongeveer 'n sewende van die wêreldbevolking.

Lande

Naam van streek en gebied, met vlag Oppervlak
(km²)
Bevolking[3] Jaar Bevolkingsdigtheid
(per km²)
Hoofstad
Noord-Afrika
 Algerië 2 381 740 34 178 188 2009 14 Algiers
 Ceuta (Spanje) 20 71 505 2001 3 575
 Egipte 1 001 450 82 868 000 2012 83 Kaïro
 Kanariese Eilande (Spanje) 7 492 2 118 519 2010 226 Las Palmas de Gran Canaria,
Santa Cruz de Tenerife
 Libië 1 759 540 6 310 434 2009 4 Tripoli
 Madeiraeilande (Portugal) 797 245 000 2001 307 Funchal
 Marokko 446 550 34 859 364 2009 78 Rabat
 Melilla (Spanje) 12 66 411 2001 5 534
 Soedan 1 861 484 30 894 000 2008 17 Khartoem
 Tunisië 163 610 10 486 339 2009 64 Tunis
 Wes-Sahara 266 000 405 210 2009 2 Laâyoune
Horing van Afrika of Noordoos-Afrika
 Djiboeti 23 000 623 891 2012 22 Djiboeti
 Eritrea 121 320 5 647 168 2009 47 Asmara
 Ethiopië 1 127 127 84 320 987 2012 75 Addis Abeba
 Somalië 637 657 9 832 017 2009 15 Mogadisjoe
Oos-Afrika
 Burundi 27 830 8 988 091 2009 323 Bujumbura
 Comore-eilande 2 170 752 438 2009 347 Moroni
 Kenia 582 650 39 002 772 2009 66 Nairobi
 Madagaskar 587 040 20 653 556 2009 35 Antananarivo
 Malawi 118 480 14 268 711 2009 120 Lilongwe
 Mauritius 2 040 1 284 264 2009 630 Port Louis
 Mayotte (Frankryk) 374 223 765 2009 490 Mamoudzou
 Mosambiek 801 590 21 669 278 2009 27 Maputo
 Réunion (Frankryk) 2 512 743 981 2002 296 Saint-Denis
 Rwanda 26 338 10 473 282 2009 398 Kigali
 Seychelle 455 87 476 2009 192 Victoria
 Suid-Soedan 619 745 8 260 490 2008 13 Joeba
 Tanzanië 945 087 44 929 002 2009 43 Dodoma
 Uganda 236 040 32 369 558 2009 137 Kampala
 Zambië 752 614 11 862 740 2009 16 Lusaka
 Zimbabwe 390 580 11 392 629 2009 29 Harare
Sentraal-Afrika
 Angola 1 246 700 12 799 293 2009 10 Luanda
 Ekwatoriaal-Guinee 28 051 633 441 2009 23 Malabo
 Gaboen 267 667 1 514 993 2009 6 Libreville
 Kameroen 475 440 18 879 301 2009 40 Yaoundé
 Kongo 342 000 4 012 809 2009 12 Brazzaville
 Demokratiese Republiek van die Kongo 2 345 410 69 575 000 2012 30 Kinshasa
 São Tomé en Príncipe 1 001 212 679 2009 212 São Tomé
 Sentraal-Afrikaanse Republiek 622 984 4 511 488 2009 7 Bangui
 Tsjad 1 284 000 10 329 208 2009 8 N'Djamena
Suider-Afrika
 Botswana 600 370 1 990 876 2009 3 Gaborone
 Lesotho 30 355 2 130 819 2009 70 Maseru
 Namibië 825 418 2 108 665 2009 3 Windhoek
 Suid-Afrika 1 219 912 51 770 560 2011 42 Bloemfontein, Kaapstad, Pretoria
 Swaziland 17 363 1 123 913 2009 65 Mbabane
Wes-Afrika
 Benin 112 620 8 791 832 2009 78 Porto-Novo
 Burkina Faso 274 200 15 746 232 2009 57 Ouagadougou
 Gambië 11 300 1 782 893 2009 158 Banjul
 Ghana 239 460 23 832 495 2009 100 Accra
 Guinee 245 857 10 057 975 2009 41 Conakry
 Guinee-Bissau 36 120 1 533 964 2009 43 Bissau
 Ivoorkus 322 460 20 617 068 2009 64 Abidjan,
Yamoussoukro
 Kaap Verde 4 033 429 474 2009 107 Praia
 Liberië 111 370 3 441 790 2009 31 Monrovia
 Mali 1 240 000 12 666 987 2009 10 Bamako
 Mauritanië 1 030 700 3 129 486 2009 3 Nouakchott
 Niger 1 267 000 15 306 252 2009 12 Niamey
 Nigerië 923 768 166 629 000 2012 180 Abuja
 Senegal 196 190 13 711 597 2009 70 Dakar
 Sierra Leone 71 740 6 440 053 2009 90 Freetown
 Sint Helena (Verenigde Koninkryk) 420 7 728 2012 13 Jamestown
 Togo 56 785 6 019 877 2009 106 Lomé
Afrika Totaal 30 368 609 1 001 320 281 2009 33

Tale

Die meeste amptelike tale van Afrika is Indo-Europese tale soos Frans, Engels, Portugees, Spaans en Afrikaans.

  • Frans: Benin, Burkina Faso, Burundi, Demokratiese Republiek van die Kongo, Djiboeti, Gaboen, Guinee, Ivoorkus, Kameroen, Mali, Madagaskar, Mauritanië Niger, Republiek van die Kongo, Rwanda, Senegal, Sentraal-Afrikaanse Republiek, Sierra Leone, Togo en Tsjad.
  • Engels: Botswana, Gambië, Ghana, Kenia, Lesotho, Liberië, Malawi, Namibië, Nigerië, Soedan, Suid-Afrika, Suid-Soedan, Swaziland, Tanzanië, Uganda, Zambië, Zimbabwe.
  • Portugees: Angola, Ekwatoriaal-Guinee, Kaap Verde en Mosambiek.
  • Spaans: Ekwatoriaal-Guinee en Wes-Sahara.
  • Afrikaans: Suid-Afrika (en Namibië tot 1990)
  • Duits: Namibië (tot 1990)

Naas hierdie Indo-Europese tale word daar ook verskillende Afrikatale gepraat. Hulle is onderverdeel in Afro-Asiaties, Niger-Kongo, Khoisan, Nilo-Sahariese en Austronesies.

Geografie

Die hoogste punt van Afrika is Kilimandjaro, 5895 m bo seevlak en die laagste punt is die Assalmeer, 155 m onder seevlak. Die Saharawoestyn is in die noorde van Afrika terwyl die Groot Skeurvallei in Oos-Afrika is. Die grootste rivier is die Nylrivier en die grootste meer is die Victoriameer. Die grootste land volgens oppervlakte is Algerië en volgens bevolking Nigerië.

Afrika, wat 'n oppervlakte van ruim 30 miljoen km² beslaan, is na Asië en die Amerikas die derde grootste vasteland ter wêreld. Hoewel die ewenaar Afrika feitlik reëlreg in die helfte sny, dit is nou van noord na suid gesien, lê sowat twee derdes van die landmassa in die Noordelike Halfrond. Verreweg die grootste deel, meer as twee deer­des, lê tussen die Kreefskeerkring en die Steenbokskeerkring, en maak van Afrika die mees tropiese van alle vastelande.

Afrika-skild

Kenmerkend van Afrika is die algemene plat voorkoms van die landskap. Die grootste deel van die vasteland bestaan uit valleie en hoë plato's, met enkele heuwels en berge wat bokant die landskap uittroon. Die byna plat voorkoms van die landoppervlakte kan toegeskryf word aan die hoe ouderdom van 'n groot deel van die kontinent. Afrika bestaan uit 'n geweldig groot deel oeroue gesteentes wat in die verre verlede die diepliggende dele van die berge gevorm het. Met verloop van tyd het die berge deur verwering weggeslyt, behalwe waar daar baie harde gesteentes naby die oppervlak was, wat meer weerstand teen erosie kon bied.

Só 'n ou geologiese vorming word 'n skild genoem. Daar is talle aanduidings dat die Afrika-skild, sowel as soortgelyke geologiese skilde soos dié in Suid-Amerika, Australië, Indië en Antarktika, oorspronklik een groot vasteland, naamlik Gondwanaland, gevorm het.

Die vastelande het stadig uitmekaar gedryf tot in hul huidige posisies op die aardbol. Volgens die teorie was die eiland Madagaskar, eers deel van Afrika (Plaattektoniek).

Weens verskeie vertikale bewegings is die Afrika-skild verdeel in 'n aantal skolle of verskuiwingsblokke, elk met 'n skoffelvormige bovlak, met 'n versonke middelste vlak. In Suider-Afrika is die plato's of tafellande hoër as die verder noord. Die gemiddelde hoogte in die suidelike deel van die kontinent is sowat 1 000 meter bo seespieël, terwyl die Drakensberge, wat 'n opvallende "skottelrand" het, hoër as 3 000 m is.

Die Kongo-bekken lê sowat 300 meter bo seespieël, terwyl sy kante omtrent 1 000 meter hoog is. Noord van die bekken is die gemiddelde hoogte laer. Die diepste deel van die Sahara-bekken lê onder seespieël.

Afrika kan dus gesien word as 'n reeks plato's en valleie wat trapsgewys van suid na noord daal, met net enkele natuurlike grense tussenin.

Slenkvalleis en vulkane

In die oostelike dele van Afrika het reuse-breuk­ vormings, saam met vulkaniese uitbarstings, die landskap heeltemal verander. Hier is die landmassa letterlik "gebreek". So het lang en diep valleie (slenke) gevorm, wat deel vorm van 'n slenkstelsel wat van die Jordaanvallei, deur die Rooisee en Ethiopië, na die Shire-vallei in Mosambiek loop. In Oos-Afrika verdeel die slenkstelsel in twee takke waar tussen die aardkors opgedruk is.

Op die plato lê die groot, maar vlak Victoriameer (skaars 80 m diep). Die westelike een van die twee groot slenkdale, naamlik die Groot Skeurvallei, kan duidelik op 'n kaart herken word omdat dit só 'n reeks smal, diep mere gevorm het van noord na suid kry 'n mens die Albertmeer, die Edwardmeer, die Kivumeer, die Tanganjikameer en die Malawimeer (Njassameer). Die oostelike lyn, wat sy beginpunt by die seestraat van Bab-el-Mandeb het, is met die eerste oogopslag nie so maklik herkenbaar nie. Die grootste meer wat hier gevorm het, is die Turkanameer, voorheen bekend as die Rudolfmeer.

Hoewel vulkaniese werkinge nog nie heeltemal uitgewoed is nie, het dit vandag nie naastenby die omvang en intensiteit wat dit voorheen gehad het nie. Daarvan getuig die groot, uitgewerkte vulkane wat tot vandag toe Afrika se hoogste berge is. Die hoogste berg is Kilimandjaro naby die grens tussen Kenia en Tanzanië. Dit is 5 895 m hoog. Hoewel dit in die middel van die tropiese gebied geleë is, is dit ewigdurend ook met sneeu bedek. Ander uitgewerkte vulkane is Berg Kenia (5 199 m) en die Elgon­-gebergte (4 321 m), onderskeidelik in Kenia en op die grens tussen Kenia en Uganda. 'n Ander belangrike bewys van vulkaniese werkinge bestaan in die vorm van die lawa-afsettings wat groot oppervlaktes in Ethiopië en die hooglande van Oos-Afrika bedek.

Kameroenberg in Wes-Afrika is deur 'n soortgelyke proses gevorm, maar op 'n kleiner skaal: in dié gebied het vulkaniese werkinge 'n groter rol gespeel as breukvorm­ing, en die opstoot van aardkorsdele na bo. Kameroenberg loop tot onder die see deur. Daarvan getuig die eilandreeks Fernando Po, Principe, Sao Tomé en Annobón.

Die vorming van bergreekse deur plooiing van die aardkors in die latere geologiese tydperke, het weinig invloed op Afrika gehad, meestal ook net aan die noordelike en suidelike rande. Hierdeur het die Atlasgebergte in die noordweste gevorm, heel waarskynlik in ongeveer dieselfde tyd as wat die groot bergreekse in Eurasië gevorm is.

Riviere en mere

Behalwe vir die Atlasgebergte met sy talle klein riviertjies, toon die waterverspreidingspatroon van Afrika 'n baie duidelike patroon wat ooreenstem met die relatief eenvoudige struktuur van die vasteland. Daar is 'n paar groot ri­vierbekkens, asook etlike bekkens wat nie na die see uitloop nie. Sowat een derde van Afrika se water loop nie uit na die see weens die geringe reënval. Dit geld vir die Sahara én die Kalahari én die hoogliggende droë plato's in Suid-Ethiopië en Noord-Kenia.

Die riviere in die beskutte Oos-Afrika-bekken vloei uit in die Turkanameer. Aangrensend aan die Sahara en die Kalahari lê die groot moerasagtige mere, naamlik die soet Tsjadmeer, wat waarskynlik ondergronds deur soetwaterstrome gevoed word en die Okavangomoerasse, wat weens 'n verdampingsproses soutwater bevat. Belangrike rivierbekkens is die Nylbekken, die Kongo-bekken, die stroomgebied van die Niger in Wes-Afrika, die Zam­bezi in die suidooste, en die Oranjerivier in Suider-Afrika.

In die algemeen is die riviere minder belangrik vir skeepvaart. Die Niger- en die Oranjerivier is byvoorbeeld in die droë seisoen te vlak vir skeepvaart. Die water van die Oranjerivier bereik selfs nie eers gedurende die hele jaar deur die see nie.

Verder het die kenmerkende platovoorkoms van Afrika tot gevolg dat die meeste riviere juis by die kus waar die platorand skielik ophou, opskiet bo 'n smal kusvlakte en watervalle of stroomversnellings tot gevolg het. Riviere vorm ook watervalle teen die kante van die plato's in die binneland waarvan talle baie indrukwekkend is.

Afrika se beroemdste waterval is die Victoria-waterval op die grens tussen Zambië en Zimbabwe waar die water van die Zambezi 100 m na benede stort. Een voordeel van dié stapsgewyse afdaling van die Afrika-rivierbeddings, is dat daar op die vasteland talle geleenthede bestaan vir hidroëlektriese kraginstallasies.

Klimaat en natuurlike plantegroei

Omdat die ewenaar deur die middel van Afrika loop, is die patroon van die klimaat en plantegroeistreke wat in die Noordelike Halfrond le, in 'n groot mate dieselfde as in die Suidelike Halfrond.

Dat dit nie heeltemal dieselfde is nie, kan toegeskryf word aan die feit dat die noordelike deel baie wyer is, en net deur diesmal Rooi See van Eurasië se landmassa geskei word, terwyl die invloed van die Indiese Oseaan tot diep in die binneland van Suider-Afrika waargeneem kan word.

Die belangrikste verskil tussen die noorde en die suide is dat die wêreld se grootste woestyn, die Sahara, in die Noordelike Halfrond is, terwyl die woestyngebiede van Suider-Afrika (die Namib en die Kalahari) baie kleiner is.

Die simmetrie van die noordelike en suidelike helftes word ook verbreek deur die hoe plato's, en dit beïnvloed ook die reënvalpatroon en temperatuur. Behalwe vir die verskille tussen die hooglande en die laerliggende dele, word die klimaat verskille van Afrika hoofsaaklik bepaal deur verskille in reënval en nie deur verskille in temperatuur nie.

Temperatuur speel natuurlik ook 'n rol, maar (behalwe by die hoogste bergpieke) verander dit nie die algemene toestand dat Afrika regdeur die jaar warm bly. In die tropiese dele van Afrika word die seisoenverskille in reënval bepaal deur die ekwatoriale laag-drukstelsel wat 'n baie hoër reënvalsyfer tot gevolg het. In die winter (somer in die Noordelike Halfrond), beweeg die reënsone noord en in die somer van die Suidelike Halfrond (winter in die Noordelike Halfrond) beweeg dit suid. 'n Strook weerskante van die ewenaar bly regdeur die jaar onder die invloed van die reëngordel. 'n Breë sone aan weerskante van hierdie gordel ken 'n baie droë en 'n baie nat seisoen. Vir 'n gedeelte van die jaar heers daar dan 'n tropiese reënklimaat, terwyl dit die res van die jaar oorwegend droog is. Hierdie streek word dan beïnvloed deur die droë luggordels noord en suid van die vogtige ekwatoriale sone wat gedurende die loop van die jaar van noord na suid verskuif. Hoe verder daar, van die ewenaar beweeg word, hoe langer word die droë seisoen, omdat die reënstrook sy invloed vir 'n steeds korter tyd uitoefen. Die oorgang van vogtige na droë klimaat is gewoonlik geleidelik omdat daar geen topografiese grense is wat een klimaatsones van 'n ander skei nie. Om dieselfde rede is die klimaat wisselvallig, veral in die droër seisoene.

Die reëngordel beweeg nie volgens riglyne nie, omdat dit nie deur topografiese kenmerke gelei ward nie. Daarom is die begin van die reënseisoen moeilik voorspelbaar een jaar is dit vroeg, die volgende jaar laat. Soms val daar baie reën, dan weer minder. Die sones met wisselende droë en nat seisoene beweeg geleidelik oor na die woestyngebiede waar 'n stortbui baie selde voorkom.

In die suidelike deel van die vasteland is die woestyn relatief klein. Die Namibwoestyn, wat aan die kus van Namibië lê, is uiters droog. Die Kalahari in Botswana is in der waarheid eerder 'n halfwoestyn. Die reusagtige Sahara in die noorde word elke jaar steeds groter en brei veral na die suide uit omdat baie min reën voorkom. Dit vorm deel van 'n droëgordel wat tot diep in Asië strek.

'n Middellandse Seeklimaat, 'n klimaat wat bestaan uit droë, warm somers, en koeler winters wanneer die meeste reën voorkom, oorheers in die noordweste en die suidelike grensgebiede van Afrika. Die patroon van Afrika se plantegroei hang van die klimaatstreke af.

Tropiese reënwoude groei in die natste dele, in die hartjie van die Kongo-bekken en die kus van Wes-Afrika. 'n Ander soort reënwoud sorg vir die natuurlike plantegroei teen die nat en reënerige hellings van die Oos-Afrika-hooglande. Rondom die oerwoud, strek die vogtige savanne of grasvlakte met hoë, wuiwende gras en hoë bome. Namate die klimaat droër word, groei die gras, en selfs die bome, laer as gewoonlik. Die bome met laer kruine begin hul blare in die droë seisoen verloor. Doringbosse en Acasias is kenmerkend van die droë savanne. Hoe nader daar aan die grense van die woestyn beweeg word, hoe yler word die plantegroei. 'n Kleiner gedeelte van Afrika as wat 'n mens sou verwag – minder as 10% – is heeltemal bar. Die boomlose grasveld in die binneland van Suid-­Afrika sorg vir uitstekende landboumoontlikhede.

Fauna en flora

Afrika het nie so baie oerwoude soos wat die algemene indruk is nie. Die grootste deel van sy oppervlakte bestaan uit uitgestrekte vlaktes, woestyne en savannes. Gedeeltelik is dit die natuurlike gevolg van prehistoriese vulkaniese uitbarstings. Die vulkaniese afsettings is net deur 'n dun lagie grond bedek waarin bome hulle moeilik kon vasanker. Die mens het die toestand later aansienlik laat toeneem deur brande, oorbeweiding en ander bedrywighede wat erosie bevorder. Die klimaat het ook sy invloed laat geld. Die afgelope miljoen jaar het die klimaatstoestande drie keer gewissel van vogtig en nat tot droog. Só het die eens uit gebreide tropiese reënwoud al hoe kleiner geword. Aan die ander kant het die veranderinge in die klimaat die dier- en plantsoorte gedwing om hulle by die nuwe omstandighede aan te pas. Só het 'n groot verskeidenheid fauna en flora ontwikkel. Dat Afrika steeds die woonplek van die groot soogdiere is, is te danke aan die savannes en uitgestrekte grasvlaktes met verspreide boomgroepe. Ondanks die bedreiging wat die mens inhou, floreer reuse-troppe wildsbokke, sebras en buffels nog hier in die ongerepte dele van Afrika. Hul getalle word beheer deur leeus, luiperds, jagluiperds, hiënas, wildehonde, jakkalse en ander vleisvretende roofdiere. Kameelperde, renosters en Afrika-olifante is ook bewoners van die grasvlaktes, hoewel daar 'n soort olifant is wat net in die bosse bly. Die voëllewe bied 'n besondere verskeidenheid. Nêrens ter wêreld is daar so baie roofvoëls soos hier nie. Dit wissel van reuse-aasvoëls wat op groot stukke wildaas leef tot klein dwergvalke wat net van insekte leef. Die grootste voël ter wêreld, die volstruis, wat tot 3 m lank kan word, word net in die savannes of grasvlaktes van Afrika aangetref. Onder die kenmerkende bome en struike wat wyd voorkom, is die kremetartboom (Adansonia digitata), ook bekend as die baobab of apebroodboom, en sekere Acacia-soorte. Die grootste woestyn in Afrika is die Sahara. Die yl plantegroei bestaan uit xerofiete of woestynplante wat hulle op een of ander manier by die droogtetoestand aangepas het. Hier kan 'n onderskeid getref word tussen grondwater en reënwaterplante. Grondwaterplante het baie lang wortels om die diep ondergrondse water maklik te kan bereik. Aalwyne kan hulle byvoorbeeld besonder goed by sulke toestande aanpas.

Reënwaterplante oorleef op hulle beurt weer deur middel van hul sade wat hul ontkiemingskrag vir jare kan behou. Wanneer dit wel reën, blom die reënplante binne 'n byna ongelooflik kort tyd.

Honderdduisende dadelpalms en ander vrugtebome word by oases aangeplant. Daarom is die plantegroei daar altyd weelderig. Die oorspronklike oaseplantegroei, wat waarskynlik uit struike soos die selonsroos (Nerium oleander) en bome soos die tamarinde (Tamarindus indica) bestaan het, het feitlik verdwyn.

Die gebrek aan voedsel en skuiling, maak die lewe baie moeilik vir die groter soogdiere wat uit die aard van die saak 'n maklike prooi vir mensejagters is. Diere soos die jagluiperd, die hartebees, die damhert, 'n wildsboksoort, en die sierlike gemsbok, is of heeltemal uitgeroei of feitlik heeltemal uitgeroei in die woestyngebiede. Die sandheuwels van die Kala­hariwoestyn is toegegroei met harde grassoorte, veral vingergras en ander soorte soetgras. In die valleie groei die sogenaamde "lewende klippe", die woestynplante, wat baie soos klippe lyk, maar hier eindig die ooreenkoms: die beskermde planthuid sorg daarvoor dat baie min vog ontsnap.

Gevolglik is die weefsel in der waarheid voedsaam en sappig.

Die Namib-woestyn in Namibië is een van die mees onherbergsame streke ter wêreld. Ook hier is die harde aapstertstreekgras (Aristida congesta) van die min plante wat aangetref word. Die beroemde Welwitschiaplant (Welwitschia mirabilis) kan ondanks die meedoënlose klimaat honderde jare aan die lewe bly.

Die tropiese reënwoude kom voor in gebiede waar die reënval meer as 1 500 mm per jaar is. Weens die vogtigheid en die baie hitte, is daar altyd 'n immergroen en baie weelderige, digte plantegroei. In Afrika word reënwoude hoofsaaklik langs die Weskus aangetref.

Ruimte vir groot troppe is daar nie en die meeste soogdiere is alleen­lopers. Hulle is gewoonlik sku diere wat snags aktief is. Een van die grootste inwoners van die reënwoud is die okapi ('n skaars verwant van die kameelperd), die boseland en die reuse-bosvark.

Die sterkste aapsoort is die gorilla soos die laagland-gorilla van Nigerië, Kameroen en die Kongo, en die berg-gorilla van Uganda en die vulkaangebied van die oostelike Kongo, waar dit tot op 'n hoogte van 4 000 m voorkom.

Die ander mensaap van Afrika, die sjimpansee, kan heel gemaklik in die grasvlaktes leef, maar is in die oerwoud beter teen mense beskerm.

Die reënwoud het ook talle belangrike bruikbare plante opgelewer soos die oliepalm, en die tropiese kola- en die koffieboom.

Sien ook

Verwysings

  1. (en) Gudmastad, Ericha (2013). "2013 World Population Data Sheet" (PDF). www.prb.org. Population Reference Bureau. Besoek op 18 Augustus 2015.
  2. (en) "Standard Country or Area Codes for Statistical Use". Millenniumindicators.un.org. Besoek op 25 Augustus 2012.
  3. (en) USCensusBureau:Countries and Areas Ranked by Population: 2009[dooie skakel]

Bron

  • Ensiklopedie Afrikana (Edms) Bpk, ISBN 0908409419 Stel, ISBN 0908409435 Band

Eksterne skakels

Kontinente van die wêreld


Afrika-Eurasië

Amerikas

Eurasië

Oseanië


Afrika

Antarktika

Asië

Australië

Europa

Noord-Amerika

Suid-Amerika

Geologiese superkontinente : Gondwana · Laurasië · Pangaea · Rodinia

This article is issued from Wikipedia. The text is licensed under Creative Commons - Attribution - Sharealike. Additional terms may apply for the media files.